Finale peilvlak vir Skotse referendum oor onafhanklikheid

Daar word koorsagtig gewerk om sowat ‘n halfmiljoen onseker kiesers te beweeg om deel te neem aan die referendum vir Skotland se onafhanklikheid op 18 September. Hierdie kiesers gaan die skaal swaai in die guns van die ja-stem vir afstigting van Engeland of diegene wat onder die Engelse uniale vlerk wil bly.

In die laaste skof word alles deur die onderskeie veldtogte se ondersteuners in die stryd gewerp om die referendum in hul guns te laat swaai. Derduisende Skotte het oor die naweek in Skotland se grootste stad, Glasgow, getoog teen die BBC se vermeende partydigheid vir die nee-stem. Die Britse eerste minister, David Cameron, sorg ook dat hy vir oulaas met sy teenwoordigheid op Skotse grond die Skotte probeer oortuig om deel te bly van ‘n verenigde Brittanje.

Die grootste afdreiging kom van finansiële instelling wat aangedui het dat hulle uit Skotland gaan onttrek om na Engeland te skuif. Die geldeenheid wat die Skotte na onafhanklikheid sal kan gebruik en lidmaatskap van die Europese Unie is van die kwessies wat deurlopend gebruik word om stokke in die onafhanklikheidswiel te steek. Ondanks al die dreigemente is verskeie nasionalistiese bewegings in lande soos Katalonië en Vlaandere se oë is gerig op wat in Skotland gaan gebeur.

‘n ICM-meningsopname wat oor internet uitgevoer is, wys dat Skotse onafhanklikheid 54% steun geniet en die nee-stem 46%. Kenners waarsku egter dat die opname onder ‘n kleiner hoeveelheid mense uitgevoer is.

Volgens mediaberigte gaan nagenoeg 80% Skotte aan die referendum deelneem, terwyl sommige beriggewers meen tot soveel as 97% gaan stem.

Die belangrikste is tans om daardie halfmiljoen onseker kiesers te oortuig terwyl die uurglas uitloop. Indien die ja-stem Donderdag wen, sal die Skotte binne 18 maande hulle onafhanklikheid van Engeland kry nadat vir 307 jaar in ‘n Britse unie vasgevang was.