Ebola-virus muteer teen vinnige tempo

Navorsers waarsku dat die ebola-virus aanhoudend en baie vinnig muteer en dit maak dit moeilik om die siekte te diagnoseer en te behandel.

‘n Studie waarby die pasiënte betrek is wat aanvanklik in Sierra Leone met ebola gediagnoseer is, toon bykans 400 genetiese modifikasies en dit kan nadelig wees vir die huidige behandeling asook toekomstige medisyne wat ontwikkel word.

Navorsers verbonde aan die Broad Instituut in Massachusetts en Harvard Universiteit voer aan dat die ebola-virus baie vinnig besig is om te muteer.

‘n Nuwe variasie van die virus wat verskil van dié in Wes-Afrika is onlangs in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gerapporteer. Dit vorm natuurlik ‘n nog groter bedreiging om die virus te hanteer.

Die Verenigde Nasies se gesondheidsagentskap, die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het bekend gemaak dat die ebola-siekte in Wes-Afrika tot soveel as 20 000 mense kan raak en na meer lande kan versprei. Baie hoë prioriteit word tans verleen aan ‘n jong student met ebola wat van Guinee na Senegal deurgeglip het.

Sowat 1,500 mense het tot dusver gesterf sedert die siekte in Wes-Afrika uitgebreek het.