E-tolstelsel kan ekonomie knou

Die e-tolstelsel in Sentraal-Transvaal sal Suid-Afrika se ekonomie laat struikel.

Dit sal nie net die provinsie se ekonomie nie, maar die hele Suid-Afrika se ekonomie as ‘n geheel knou, meen die Regsprojek van Suid-Afrika (RPSA).

Die voorsitter van RPSA, Howard Dembovsky, het tydens die openbare verhore van die hersieningspaneel oor die e-tolstelsel getuig. Hy meen die stelsel sal kunsmatige misdadigers skep wat later selfs kan oorgaan tot ware misdadigheid indien hulle tronkstraf van tot ses maande opgelê word omdat hulle nie hul e-tolgeld betaal het nie.

Baie mense kan die e-tolheffings bekostig nie en indien hulle vervolg sou word omdat hulle nie betaal nie, kan hulle ‘n misdaadrekord kry. Dit kan hulle weer verhinder om werk te kry. Al hierdie faktore kan aldus Dembovsky lei tot ‘n sosio-ekonomiese krisis.

Volgens die padagentskap, Sanral, is die nie-betaling van e-tolgeld beide ‘n verkeers- en ‘n strafregtelike oortreding. Boetes van ‘n R1 000 word gehef vir elke tolbrug waardeur motoriste ry wat nie hulle tolgeld betaal nie.

Nagenoeg R1,1 miljard se tolgeld was teen 31 Mei vanjaar nie betaal nie. Net die helfte van die 2,5 miljoen mense wat die snelweë gebruik waar die tolgeld gehef word, is geregistreer. Dembovsky het daarop gewys dat die projek tans R2 miljard in die rooi is.

Dembovsky het aanbeveel dat die e-tolstelsel gestaak moet word en ‘n brandstofheffing van 14 sent per liter eerder ingestel moet word.

Die hersieningspaneel oor die e-tolstelsel sal teen die einde van November hulle bevindinge aan die premier van Sentraal-Transvaal, David Makhura, oorhandig.