Byna 2 milj Katalane betoog vir onafhanklikheid

Sowat 1,8 miljoen Katalane het vanjaar deelgeneem aan ‘n skouspelagtige betoging in Barcelona om aan te dring op onafhanklikheid van Spanje.

Aangevuur deur die Skotse referendum oor onafhanklikheid wat op 18 September plaasvind, was dit die grootste betoging ooit in Katalonië en waarskynlik selfs Europa.  Dit was ook die herdenking van Diada-dag drie eeue gelede toe die Katalane hulle onafhanklikheid verloor het.

Honderde duisende betogers het in strate van Barcelona die Katalaanse onafhanklikheidsvlae met sy rooi en geel strepe asook wit ster op ‘n blou agtergrond rondgedra. Katalane van regoor die land het opgeruk na die hoofstad, waar hulle hoofbanier hulle doelwit uitgespel het: “Op 9 November gaan ons stem. Op 9 November gaan ons wen”. Deelnemers aan die betoging het T-hemde met die slagspreuk: “Nou is die tyd” (“Ara es l’hora”) gedra om hul steun vir hulle eis om te stem, te toon. 

’n Jong dogter wat 16 jaar oud op die stemdag sal word en daarom geregtig sal wees om te stem, het as deel van die verrigtinge simbolies ‘n stembriefie in ‘n stembus geplaas. Die Katalane het ‘n reuse mosaïek van die onafhanklikheidsvlag gevorm. ‘n Reuse letter, “V”, vir die woorde: “Votar” (stem), “Via” (pad), “Volutat” (wil) en “Victoria” (oorwinning)  is ook deur die betogers uitgespel.

Hoewel die Katalaanse polisie die opkoms op 1,8 miljoen gestel het, meen die Spaanse sentrale regering egter dat net tussen 470,000 tot 520,000 mense opgedaag het. Hierdie heelwat laer syfer kom van ‘n regering wat hewig gekant is teen die Katalane se onafhanklikheidstrewe. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajou, het gewaarsku dat sy regering alles moontlik sal doen om te verseker dat die beoogde “nie-bindende” referendum op 9 November baie beslis nie gaan plaasvind nie.

Die president van Katalonië se streeksregering, Arthur Mas, het die Spaanse owerheid gevra om die betoging nie as ‘n “provokasie of ‘n uitdaging” te beskou nie, maar as “’n aandrang om te stem”. 

“Diada”-dag word beskou as die dag waarop die Katalane hulle onafhanklikheid verloor het. Op 11 September 1714 is Barcelona deur Spaanse en Franse magte ingeneem tydens die Oorlog van Opeenvolging.