Britse politici skarrel rond oor Skotland

Die Britse politieke elite skarrel paniekerig rond oor die toename in steun vir Skotse onafhanklikheid.

Hulle haas hulle na Skotland, want dit is nie net meer blote dagdromery dat die Verenigde Koninkryk uitmekaar gaan spat nie, maar ‘n definitiewe moontlikheid.

Die Britse eerste minister, David Cameron, het die Skotse wit en blou vlag by Downingstraat no 10 laat hys en is in alleryl onderweg na Skotland.

Dit volg kort op die hakke van meningsopnames wat ‘n toename in onafhanklikheidsteun onder die Skotte getoon het. Die skokgolwe van die jongste YouGov-opname, waarin die ja-stem vir die eerste keer ‘n meerderheid gekry met ‘n 51% steun, trek steeds deur Britse politieke vestings.

Juis daarom is Cameron een van drie Britse hoofleiers wat knap voor die referendum op 18 September besluit het om ‘n veldtog in Skotland te gaan voer teen Skotse onafhanklikheid. Die Arbeidersparty se leier, Ed Miliband, en die adjunk-eerste minister, Nick Clegg, gaan saam met Cameron die Skotte probeer oortuig om deel van die 307 jaar oue unie met Brittanje te bly. 

Hulle het besluit om eerder vraetyd in die Britse parlemente mis te loop, maar dat dit ‘n dringend noodsaaklike prioriteit is om in Skotland te wees.

Basies gaan hulle eintlik die Skotte smeek, want daar is hopeloos te veel vir die Britte om te verloor indien die Skotte hulle eie paadjie sou loop. Die vorige Britse eerste minister, Gordon Brown, wat self ‘n Skot is, neem ook ywerig deel aan die veldtog om die Skotte ‘n devolusie van mag te belowe indien hulle deel van ‘n verenigde Brittanje sou bly.

Volgens die Skotse eerste minister, Alex Salmond, is die boodskap van hierdie buitengewone laat reaksie dat Westminister se elite in ‘n absolute staat van paniek is terwyl die grond in Skotland onder hulle voete verskuif.