Weerstandige malaria in Afrika.

Weerstandige malaria wat bestand is teen een van die middels wat vir die behandeling daarvan ontwikkel is, het moontlik al van Suidoos-Asië na Afrika versprei. 

’n Malariakenner van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is bevrees dat dit die stryd teen malaria in Afrika ’n hewige knou kan gee. 

New Scientist (newscientist.com) het verlede week berig navorsing onder leiding van dr. Annette Erhart van die instituut vir tropiese medisyne in Antwerpen, België, oor ’n geval in 2013 waarby ’n Angolees met malaria nie op behandeling met die middel artemisinien gereageer het nie, kan daarop dui dat dié weerstandigheid al in Afrika teenwoordig is. 

Dit kan ernstige gevolge hê omdat artemisinien tot dusver die middel was wat konsekwent teen weerstandige malaria-stamme gewerk het. Daar word beweer in dele van Afrika is dit ál middel wat nog doeltreffend is.

Artemisinien-weerstandige malaria het in die laaste jare wyd in Viëtnam, Kambodja, Thailand en Mianmar (vroeër Birma) versprei. 

Navorsers sê ’n 58-jarige Viëtnamees het in April 2013 van Angola, waar hy as bouwerker gewerk het, na Hanoi, Viëtnam, gereis en toe na sy tuisdorp in ’n malariavrye gebied van Viëtnam teruggekeer. 

Nietemin het hy dae later malariasimptome getoon wat daarop dui dat hy malaria in Angola opgedoen het. Hy was agt dae lank in ’n ­koma waartydens behandeling met twee soorte artemisinienmiddels geen uitwerking gehad het nie.

’n Ouer middel teen malaria, kinien, het wel gewerk, maar wetenskaplikes vrees nou dat artemisinienweerstandigheid in Angola en moontlik elders in Afrika kop uitgesteek het.