Vredesooreenkoms val plat in Gasa

Israel het sy lugaanvalle op Gasa hervat nadat sy kortstondige skietstilstand met volgehoue missielvuur beantwoord is.

Die ses uur lange skietstilstand is deur Israel nagekom ingevolge ‘n vredesooreenkoms wat deur Egipte voorgestel is. Israel se vredes-kabinet het dit aanvaar, maar Hamas se militêre vleuel het dit verwerp as synde ‘n oorgawe”. Die politieke vleuel van Hamas het glo aangedui dat hulle die ooreenkoms sal oorweeg. Hamas wat die Gasa-strook beheer, wil toegewings hê voordat enige ooreenkoms gesluit word. Een daarvan is die verligting van die streng grensbeheer wat Israel en Egipte teen Gasa toepas.

Volgens die Israelse weermag is sowat 50 missiele deur die Palestyne op Israel afgevuur in die ses uur wat die skietstilstand nagekom is.

Die beëindiging van die konflik, wat al meer as sewe dae duur, lyk na die mislukking van die Egiptiese vredesooreenkoms nog skraler. Vrese bestaan dat die konflik tot ‘n volskaalse oorlog kan uitbrei.