Vlug SA286 was nagmerrie

Toe die SAL-vliegtuig ’n erge turbulensie tref, was daar algehele chaos in die vliegtuig toe passasiers gil en skree van vrees omdat hulle gedink het die tuig stort neer.

Die skudding was so erg dat passasiers wat nie vas gegordel was nie, teen die dak van die tuig gegooi was en ernstige beserings opgedoen het.

Sowat 20 passasiers, waarvan een ’n kleine babatjie is, asook van die kajuit bemanning is tydens die skudding beseer.

Passasiers het later vertel watter vrees en paniek ervaar is toe die vliegtuig die erge turbulensie getref het. Een vertel dat dit gevoel het of ’n reuse hand die vliegtuig heen en weer ruk.

Talle passasiers was besig om te slaap toe die vliegtuig skielik vinnig gesak het, wat toe die skrik en paniek nog erger gemaak het.

Die Airbus A340-300 het van die Johannesburg lughawe vertrek na Hongkong.

By die aankoms op die Chek Lap Kok-lughawe in Hongkong het 14 ambulanse gereed gestaan om beseerdes vir mediese en sielkundige sorg na hospitale in die stad te neem.