Vakbonde versus Volksekonomie

Terwyl Suid-Afrika strompel en struikel om staande te bly weens die teistering wat deur stakings en korrupsie veroorsaak word, en ’n misdaad-mekka is vir bykans elke denkbare vorm daarvan, word die Boere-Afrikaner keelvol vir diegene wat dink hulle het net regte en nie voorregte nie.

Sonder om stil te staan tussen die twee begrippe, is dit merkwaardig hoe stakers hulle op sleeptou laat neem deur vakbondleiers wat dit hulle werk gemaak het om werkers te beïndruk met sogenaamde geregverdigde looneise en werksvoordele asof daar net regte bestaan.

In die eerste ses maande van vanjaar het stakings die land met miljarde en nogmaals miljarde Rand benadeel, wat waarskynlik een van die belangrikste redes is waarom die groeikoers daal in stede van ’n styging soos wat voorsien is deur die regime.

Die laaste van groot stakings is Maandag gestuit toe die vakbond tevrede was met ’n aanbod van 7% tot 10% terwyl hulle hoog opgegee het dat hulle gaan aanhou staak tot hulle eis van 15% aanvaar is.

Buitelandse maatskappye raak keelvol vir die eise – as daar ’n verhoging in produksie teweeg gebring word na afloop van ’n staking, dan was dit geregverdig om te staak.

Ongelukkig is die teendeel eerder waar – stakers verbeel hulle dat hulle die hef in die hand het, en tot ’n mate kan dit so wees, maar net tot op ’n punt – dan knak die kameel se rug soos wat dit met platinummyne die geval is.

Daardie myngroepe het besluit om die myne in die mark te sit, want hulle is moeg vir al die stakings en ongeregverdigde looneise.

Selfs motorvervaardigers dreig om te onttrek uit die land en hulle fabrieke elders in die wereld op te rig.

En waar bring dit die Boere-Afrikaner?

Die onvoorspelbaarheid van werkers in die land, en die onverantwoordelike optrede van vakbonde, het een belangrike besef gebring, dat ’n volkseie ekonomiese projek voorrang moet geniet waar volksgenote op ekonomiese gebied mekaar ondersteun en versterk.

In die lig hiervan, het Die Vryburger sy bestaan te danke, en deur offervaardigheid het die een na die ander volkseie struktuur ontstaan – almal gekoppel aan die suiwer doel om die volksekonomie eerste te stel, terwille van volksgenote wat ’n vryheidstrewe met woord en daad handhaaf en ondersteun.

Die volkseie strukture is vry van stakers en vakbonde se negatiewe invloede, werk en ondersteun mekaar op ’n wyse wat eie is aan ons volk se oortuigings en tradisies.

Redakteur