Spoke loop in Noord-Kaap

Spoke loop in Noord-Kaap

Die meer as 11,000 werkers in die verskillende departemente van die Noord-Kaapse administrasie moet nou getel word om seker te maak die spoke word van die betaalstaat verwyder.

’n Tel-proses is in werking gestel om seker te maak dat almal wat betaal word, wel bestaan en in lewe ook nog in diens van ’n departement is.

Dié telling word aangepak deur die Noord-Kaapse tesourie en sal vanaf 21 Julie tot 15 Augustus duur.

Provinsiale amptenare sal in dié tyd op spesifieke tye moet aanmeld op spesifieke plekke om getel te word.

Die telling word gehou om seker te maak dat die spoke uitgeknikker word.

’n Anonieme amptenaar sê daar is vermoedelik meer as 500 spoke wat elke maand ’n goeie vergoeding ontvang sonder enige navrae.

Die provinsie se grootste enkele uitgawe is juis sy derduisende amptenare wat die provinsie se infrastruktuur en funksionering aan die gang moet hou terwyl daar bitter min fondse beskikbaar is om die werk te verrig, word gesê.

’n Woordvoerder van die tesourie sê personeel wat nie op die gegewe tyd aanmeld op die gestelde punte nie, sal nie verder op ’n betaalstaat wees nie.