SAL Loods staan in onderbroek.

’n Loods van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), kapt. Wouter van Ginkel is by die Harare-internasionale lughawe in Zimbabwe in hegtenis geneem nadat hy uit protes teen die lughawe se veiligheidsmaatreëls tot by sy onderbroek ontklee het. 

Volgens berigte is kapt. Van Ginkel in hegtenis geneem op aanklag dat hy ’n oorlas van homself gemaak het. Hy is later vrygelaat nadat hy ’n boete betaal het. 

Die voorval het gebeur toe kajuitbemanning van SAL-vlug 025 Dinsdagoggend roetine-sekuriteitsprosedures gevolg het vóórdat hulle op die vliegtuig sou klim. Die verklikkers by die deurgangshekke het glo geklik toe Van Ginkel daardeur geloop het en veiligheidswagte het hom gevra om sy skoene uit te trek.

Van Ginkel het dit gedoen en is weer deur die deurgangshekke. Die verklikker het weer geklik en hy is gevra om sy gordel te verwyder. 

Op dié bevel het Van Ginkel glo hom vererg en het hy in woede sy klere uitgetrek. Daarop is hy in hegtenis geneem.

Minstens 90 mense is weens die optrede ontwrig toe die vlug vir meer as vyf ure vertraag is.

’n Nuwe kajuitbemanning moes die vlug onderneem nadat Van Ginkel weens sy inhegtenisname verbied is om te vlieg.