SABC verneder Afrikaans verder.

Die SABC het amptelik Afrikaners en Afrikaans afgegradeer toe hulle Maandag aangekondig het dat die nuusbulletin van SABC2 na die baie kleiner SABC3 skuif.

SABC3 kan in baie dele van die land nie opgevang word nie. Dit sluit byna die hele Noord-Kaap, die Oos-Vrystaat, die Oos-Kaap en groot dele van die Wes-Kaap in.

Slegs die veelrassige sepie 7de Laan en die joernaalprogram Pasella sal op SABC2 bly, terwyl ander Afrikaanse programme, soos 50/50, Swart­water en Fokus ook na SABC3 geskuif.

Waarnemers het gemerk dat dit interessant is dat SABC2 dus die advertensie-inkomste van die 2 gewilde Afrikaanse programme ook gryp.

Die Afrikaanse TV-nuusspan het die nuus Maandagmiddag, nadat die SABC se besluit al aangekondig is, eers van die nuwe verwikkelings te hore gekom.

Sandy Macdonald, uitvoerende regisseur van Afrikaanse TV-nuus,  het aan sy kollegas geskryf dat dit lyk asof hulle die stryd verloor het.

Daar is vertroulik verneem dat die besluit om die Afrikaanse nuusbulletin te skuif, deur Leo Manne, kanaalhoof van SABC-TV, geneem is. Die Afrikaanse nuusspan is nie eens genooi na vergaderings waar die besluit bespreek is nie.

Die SABC3-voetspoor is baie klein en gebiede wat baie Afrikaanssprekendes het, sal voort­aan glad nie meer die nuus in Afrikaans met die terrestriële sein kan opvang nie.

Nóg ’n skokonthulling is ’n kaart wat wys hoe ’n groot persentasie inwoners van die Noord-Kaap, ’n groot deel van die Vrystaat (byvoorbeeld Bethlehem) en ’n groot deel van die Wes-Kaap (Ceres, De Doorns en Struisbaai) nie SABC3  sonder DStv kan opvang nie.

Volgens Zandile Nkonyeni, woordvoerder van SABC-TV, is dit ’n strategiese besluit om die Afrikaanse nuus na SABC3 te skuif.

Dit blyk dat die SABC blatant vir kykers gelieg het oor die toekoms van die Afrikaanse nuusbulletin. Voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi is daar gesê die nuusbulletin skuif net tydelik en sal terugkeer na SABC2.

’n Advertensie waarin die nuusleser Ivor Price gesê het: “Die nuus in Afrikaans keer Maandag 14 Julie om 19:00 terug na SABC2 toe” is selfs gebeeldsend, maar Maandagaand is die Afrikaanse nuusbulletin weer 19:30 op SABC3 gelees.