Rassekaart oorheers grond in Suid-Afrika

Die ANC-bewind volhard met die rassekaart ten opsigte van grondbesit en spesialiseer net daarin om sy propaganda daaroor telkens vanuit ‘n nuwe invalshoek aan te bied.

Benewens ras sal nog twee maatstawwe, naamlik geslag en nasionaliteit  dien as vereistes wanneer voornemende grondkopers grond in Suid-Afrika wil registreer.

Hierdie voorwaardes sal ingebou word in éen van die nagenoeg dosyn nuwe wetsontwerpe wat nog in die parlement oor grond ter tafel gelê gaan word.

Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti, het via sy woordvoerder allerlei vermeende redes vir die ANC-bewind se ooglopende swart bevoordeling ten opsigte van grondbesit probeer voorhou. Een van die redes vir Nkwinti se rasvereiste by grondregistrasie is dat dit glo die enigste manier is om grondhervorming akkuraat te meet.  

Die president van Agri SA, dr. Theo de Jager, meen egter daar lê beslis iets anders agter alles. Hy is ook van mening dat die beoogde plan nie versoenbaar is met die ideaal van ’n nie-rassige samelewing nie.

Die gegewe bly dat die regering gesorg het dat die meeste kaart en transporte van die grond wat hulle die afgelope jare sogenaamd aan swartes oorgedra het, in hulle eie hande beland het. ‘n Kernvraag is: weet die ANC-bewind enigsins hoeveel grond hy al op hierdie manier ingevolge sy mag der menigte wette en projekte vergaar het? Die grond gaan glo nou as deel van nóg wetgewing, deur die bewind ten volle aan die ‘nuwe bewoners’ van die grond oorgedra word. Om dit te kan doen, moet die boekhouding daaroor egter baie akkuraat en op datum wees.

In ‘n sogenaamde grondoudit wat laat verlede jaar bekend gemaak is, kon die ANC-bewind glad nie verklaar wie ‘n volle 7% persent  (8 miljoen hektaar) grond in die land besit nie. Die "onverklaarde" grond het noodwendig is streep getrek deur die vermeende hoeveelheid grond wat volgens die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se oudit in privaat- en staatsbesit is.

Waarheen het daardie 8 miljoen hektaar verdwyn?

Nog ‘n feit is: die ANC-bewind weet ook nie hoeveel grond deur buitelanders besit word nie, voer lede van die opposisie aan. Die beginpunt vir ‘n maklike oudit hieroor is dat die media sporadies berig dat Chinese, Indiërs en Nigeriërs tel onder die grondkopers van baie duur eiendomme in die land.

Die versuim om ‘n geloofwaardige grondoudit uit te voer ná twintig jaar aan bewind, lyk enersyds na politieke moedswilligheid. Andersyds is bevoegde amptenare om ‘n behoorlike oudit uit te voer immers baie skaars.

Terwyl die moeite gedoen word om ‘n akkurate en geloofwaardige grondoudit uit te voer, kan daar sommer ook vasgestel word hoeveel van die grond wat al oorgedra (hervorm) is – werklik (nog) enigsins produktief is.

Hier is ‘n beginpunt: die voorsitter van Nasionale Raad van Provinsies (voorheen premier van Wes-Transvaal), Thandi Modise, se saak hangende oor erge diereverwaarlosing, is weer in die kalklig nadat haar werkers glo die DBV-amptenare gedreig het tydens hulle besoek op die plaas.

Foto – Thandi Modise