Personeel besteel Mandela-museum

Personeel van die omstrede Robbeneiland-museum is skynbaar die grootste diewe van goedere uit die museum, en dit is in die parlement bestempel as dade van “gesofistikeerde” diefstal.

Sibusiso Buthelezi, die voorsitter van die museum-raad, het glo aan parlementslede in ’n portefeuljekomitee gesê die museum word van geld én reputasie besteel.

Blykbaar is die diewery reeds etlike jare aan die gang, en dit blyk dat finansiële wanbestuur, korrupsie, bedrog en selfs diefstal van goedere aan die orde is.

Meer as 20 tugsake is al ingestel, en die die meeste daarvan was vir finansiële ongerymdhede.

Een woordvoerder het glo gesê die mooi bewoording van ongerymdhede moet maar vervang word met die werklike woord van die daad, naamlik blatante diefstal.

Toegangskaartjies word vervals en aan besoekers verkoop en die geld word dan in die sak gesteek, en die veerbote wat besoekers van die land na die eiland vervoer word onklaar gemaak sodat ander bote gehuur kan word van private eienaars.

Van die 300 werknemers by die museum is 205 op ’n permanente basis aangestel.