Op die Volksakker – sien ons die groter prentjie?

Die afgelope tyd was daar interessante gebeure in die nuus, plaaslik en internasionaal.  Dit bring onwillekeurig die vraag na vore:

Hoe beoordeel ons volksgenote hierdie nuusgebeure?  Dink ons mense regtig nog hoe dit nie net elkeen persoonlik nie, maar ons volk en volksideale raak?

Rondom ons volksakker is daar vele spreekwoordelike loopgrawe, want ons volk is sonder twyfel gewikkel in ´n stryd om oorlewing, fisies sowel as geestelik en moreel.

Maar ons wat daagliks uit daardie loopgrawe stry vir ons volk se tydelike en langer-termyn belange, moet seker maak dat ons nie in die hitte van die stryd sig verloor van die groter geheel nie.

Ons moet daarom duidelik vir mekaar sê wie ons is, wat ons kern-beginsels is en wat ons ideale is: sonder daardie ankers enersyds, en toekomsblik andersyds, is ons gedoem om die foute van die verlede te herhaal en sal ons nouliks uitkom waar ons graag wil wees.

Of ek myself Afrikaner, Boer of Boere-Afrikaner noem maak geen verskil nie – wie hiervan ´n strydpunt maak, doen dit met bewese en bekende eiebelang voorop.

Maar eien ek my daardie name toe, neem ek ook die ryke, ondeelbare erfenis van my voorouers:

Die Christelik-protestantse geloof;

Beskaafde norme en waardes, óók teenoor hulle met wie ek verskil, of selfs in stryd is!

Ons Afrikaner-kultuur en kultuur-historiese erfenis, goed of minder goed, ál ons simbole.

Ons vryheid-strewe: nie ´n halwe eier nie, maar soewereine vryheid in ons eie land.

Ons taal, maar beslis ook taalsuiwerheid, die taal van Totius en andere, wêreldklas!

In die nuus sien ons daagliks hoe barbare van ´n nuwe politieke party hulle wangedra;  dit volg op maandelange stakings-geweld en volgehoue, algemene openbare verval en blote morsigheid in enige dorp of stad.

Maar is ons eie gedrag steeds beskaafd, beskawend?  Het ons nie ook lui geraak op die netheid van ons woonbuurte of omgewing nie?

Ons veroordeel met reg die vandalisme teen ons erfenis, teen simbole van openbare orde, maar wat is die boodskap wat ons uitdra wanneer ons ander se simbole op growwe wyse minag?

En elkeen van ons kan rooi onder die kraag word vir daardie openbare vervoer-bussies se maniere, maar hoe hartseer wanneer meer en meer van ons mense dit nadoen!

Die manier wat ons elke dag lewe, die voorbeeld wat ons in die openbaar stel (goed of sleg), ons uitsprake en die uitleef, aldan nie, van ons geloofs- en beskawingsnorme as Afrikaners, as Boer of Boere-Afrikaner spreek boekdele meer as enige manifes of verklaring!

Wat my bring by die nuus dat die regering “skielik” bereid is tot gesprek oor selfbeskikking.  Ons moet sekerlik versigtig optimisties wees hieroor, maar ons moet ook die implikasies versigtig oorweeg:

Gaan ons met mekaar hierom hande vat?  Dit is noodsaaklik!  Al kom ons net één tree nader aan soewereine vryheid, móét ons daardie tree gee.

Maar gaan ons ook ons eie huis, ons volksakker in orde kry, deur diegene wat die geloof van ons vaad’re versaak vir allerlei dwalinge, openhartig tereg te wys?  Diegene wat liefde vir die eie verhef tot naakte rassisme?

Ons volk-saak is te belangrik om onnodig verdeeld te wees, maar óók moet ons waak met wie ons assosiëer: Die saak van vryheid is meermale in die geskiedenis tydelik gekelder deur eiebelang en onverdraagsaamheid, onderling of na buite.

En in dieselfde asem moet ons waak teen liberalistiese invloede uit “volkskring”, wat die pendulum graag na die ander uiterste wil swaai en mense wysmaak “kulturele vryheid” en beperkte selfbeskikking binne die NSA is werkbaar, valse boodskappers wat hulself toenemend as “modern Afrikaners” wil skets.

Dit is ´n vals ster, ander woorde maar dieselfde gifbeker as 1989-94, wat geen vryheid nie, maar aanvaarding van knegskap opdis as “vryheid”.

Nie net plaaslik nie, maar internasionaal is daar ´n bewustheid van volkskap, die her-ontdekking dat grense vrede bring: kyk maar na die Oekraïne, Gaza of Skotland – telkens word geweld ontketen deur ´n verloopte, liberale wêreldgees, maar volke wat hulle vryheid koester oorbrug tydelike verskille ter wille van vryheid.

Ons moet voortbou op die trekpaaie van 1834-1899, 1910-1989, op die edel volks-grondslag van ons voorgeslagte, om weer ons regmatige plek as vrye volk te beding.

Maar dan weer ´n volk vry om vir God ´n volk te wees onder die volke en nasies.

Ons geskiedenis is gebou op die hoeksteen van die Christelik-protestantse geloof.  Ons is ´n volk wat ten bloedens toe geveg het vir ons bestaansreg en ons erfenis, in die 1700’s, die 1830’s en 1840’s, weer in 1880 en 1899, deur 1914 tot 1961-89!

Maar op geen tydstip was daardie gevegte as aggressor, of om te neem wat ons nie toekom nie. En tussen-in was daar baie meer voorbeelde waar ons ons landgenote opgehef en gehelp het.  Daarom kan ons ons vals beskuldigers reguit in die oog kyk en hulle leuens ontbloot.

Maar altyd was die volkseie eerste: liefde vir die eie geskoei op beskaafde norme, Christelike norme!