Nuusflitse – 8 Julie

Personeellede moes Maandagoggend vroeg uit die presidensiële kantore in Tuynhuys, Kaapstad, vlug toe rook by een van die kantore uitgeborrel het. Later is vasgestel dat ’n elektriese fout die oorsaak was. Geen brandskade is ondervind nie.

 

Steve Hofmeyr het verlede Saterdagaand op ’n verhoog konsert van 18 bekende kunstenaars, wat deur ’n regisseur behartig is, voor derduisende mense “Die Stem van Suid-Afrika” gesing.

 

Eduard Shevardnadze, Georgië se eerste president, is in die ouderdom van 86 jaar oorlede. HY is wêreldwyd geprys vir sy aandeel in die beëindiging van die Koue Oorlog, toe hy die Sowjet-Unie se laaste minister van Buitelandse Sake was.

 

Passasiers wat regstreeks na Amerika vlieg, kan binnekort verplig word om hul selfone en ander elektroniese toestelle aan te skakel om te bewys dat dit nie ‘n ploftoestel is nie.

 

Beijing (China), Oslo (Noorweë) en Almaty (Kazakstan) is die drie wêreldstede op die kortlys om in 2022 die Winter Olimpiese Spele aan te bied, het Thomas Bach, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se president, aangekondig.

 

’n Winterskool vir sowat 400 leerlinge by Brits moes gestaak word omdat 25 leerlinge met diarree in die hospitaal opgeneem is terwyl ander erge maagkrampe gekry het weens die lae graad voedsel wat aan hulle voorgesit is.