Nóg polisie-hoë van bedrog aangekla

‘n Klag van bedrog is teen ‘n brigadier van die polisie in die Wes-Kaap ingedien weens vals petrol eise.

 Die eise is in werksverband ingedien en die inligting oor die afstande wat afgelê is, is glo vervals. Hy ontvang ‘n voertuigtoelae en mag daarvolgens nie met ‘n polisievoertuig ry nie. 

Die klag teen hom is deur ‘n kolonel by die polisiekantoor in Sentraal-Kaapstad ingedien. Beeldmateriaal is glo ook by ‘n onderneming op die pad na Vredendal gekry wat wys dat die brigadier die motor bestuur het.

Die klagte is deur die polisie se provinsiale woordvoerder, lt.kol. André Traut, bevestig. Hy het bygevoeg dat die polisie nie verder oor die saak kan uitwei totdat dit afgehandel is nie.

Die brigadier doen blykbaar gewoonlik ondersoeke oor ander polisielede. Hy gaan binnekort met pensioen.

Die polisieman se naam kan nie bekend gemaak word tot die ondersoek teen hom afgehandel is of voordat hy in ’n hof verskyn het nie.