Motsoeneng se SABC-knoeiery

Die snelle opgang van die SABC se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, by dié instansie is merkwaardig. Dit is nou inaggenome dat hy nooit matriek verwerf het nie.

Die aansoekvorm wat hy in 1995 by die SAUK in Bloemfontein ingevul het, toon slegs vyf vakke. Daarvoor het hy homself vir vier vakke E-simbole, waarvan een glo “Bibs” (waarskynlik nogal Bybelstudie) is, en vir geskiedenis ‘n F-simbool toegeken.

Nog merkwaardiger is die feit dat hy eers na meer as tien jaar by die SABC geskors is nadat ’n oudit deur Deloitte & ­Touche bevind het sy kollegas beskou hom as ’n “semi-geletterde joernalis, onervare en nie in staat om in Engels te kom­munikeer nie”.

Hy het egter die skorsing as uitvoerende vervaardiger by Lesedi FM betwis. Motsoeneng se pad boontoe na sy heraanstelling in 2009 was meteories gewees. In 2012 is hy as waarnemende bedryfshoof aangestel en sy vaste aanstelling in dié pos is onlangs deur Faith Muthambi, minister van kommunikasie, bekragtig.

‘n “Onheilige alliansie” bestaan glo tussen Motsoeneng en die voorsitter van SABC-raad, Ellen Tshabalala, oor wie se kwalifikasies ook vrae gevra word, aldus ‘n voormalige senior amptenaar. Die twee gaan volgens hom die Nasionale uitsaaier in die grond in bestuur. Hy het ook vertel dat Tshabalala ‘n noue bondgenoot van pres. Jacob Zuma is. “Oral waar hy gaan, gaan sy saam.” Dit word met trots in bepaalde kringe verkondig dat die ANC-president, Jacob Zuma, net ‘n standerd 3 ‘sertifikaat’ het.

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het onlangs bevind dat sy aanstelling onregmatig was. Nog een van haar bevindinge is dat sy salarisverhoging van R1,5 miljoen tot R2,4 miljoen per jaar strydig is met die SABC se interne regulasies en daarom onregmatig. In haar verslag oor Motsoeneng het sy ook bevind hy het talle mense onregmatig aangestel en salarisverhogings gegee wat daartoe bygedra het dat die SABC se salarisrekening met R29 miljoen gestyg het.

Foto – Hlaudi Motsoeneng