MH17 – Internasionale polisie deins terug

’n Hele span Internasionale polisiebeamptes het teen hulle sin terug gedeins om hulle taak te verrig in die oorlog geteisterde Oekraïne waar die MH17 vliegtuig neergeskiet is.

Die adjunk-hoof van die organisasie Veiligheid en Samewerking in Europa (OVSE), moes erken dit is gans en al te gevaarlik vir die span polisielede om hulle werk te doen in die ooste van die Oekraïne. Dit is glo ook te gevaarlik om in die gebied te reis en gevolglik moes die plan om hulle werk te gaan doen, voorlopig laat vaar word.

Die span wat saamgestel is uit polisiebeamptes van Australië en Nederland, sal eers later die gebied kan besoek sodra die terrein met veiligheid bereik kan word.

Intussen het die pro-Russiese magte in die Ooste van die land gesê dat ondersoekers se veiligheid gewaarborg word.

Premier Tony Abbott van Australië het bevestig dat die polisiebeamptes die gebied ongewapen sou betree.

Die gebied is steeds in gevegte gewikkel en meer as 1,100 mense het al die lewe gelaat in die gevegte, uitgesonder die 298 mense wat omgekom het met die afskiet van die passasiersvliegtuig.