Mdluli word gedagvaar

Die beleërde Lt. genl. Richard Mdluli, SAPD se geskorste hoof van misdaadintelligensie, gaan blykbaar eersdaags gedagvaar word.

Nathi Mncube van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê daar word nou met Mdluli se regsverteenwoordigers gekonfereer om ’n datum vas te stel. Hy het gesê Mdluli sal nog gedurende 2014 gedagvaar word.

Mncube wou egter nie uitwei oor die aanklag assulks nie aangesien die dagvaarding nog beteken moet word.

Die vermoede bestaan egter dat hy aangekla sal word vir aanranding en intimidasie.

Mdluli word verbind aan die dood van Oupa Ramogibe en ondersoeke in die verband is glo nog aan die gang. Twee ander polisiebeamptes gaan waarskynlik ook gedagvaar word oor die aangeleentheid.

Mdluli, is in 2011 geskors en kry steeds elke maand sy volle salaris. 

Foto – Richard Mdluli