Inwoners dae lank waterloos

Inwoners van Numbi Park in Hazyview is gedurende die afgelope ses maande geteister met aanhoudende afsny van kraanwater wat gemiddeld tien keer per maand plaasvind, en dan tot vier dae aaneenlopend duur.

Die rede hiervoor is eintlik ’n bietjie ironies want daar is nuwe pompe geïnstalleer om die water effektief te pomp na opgaartenks, maar die pompe is foutief geïnstalleer.

Sodra daar weer ’n keer water in die krane is, het inwoners nie eers ’n gebruik daarvoor nie want dit is donkerbruin en kan slegs vir die tuine se benatting gebruik word.

Hazyview sukkel glo sedert 2012 maar nou word die situasie al erger, het ’n inwoner aan Die Vryburger gesê.

Inwoners is gedwing om water ten duurste te koop by winkels, en moet selfs daarvan gebruik om toilette te spoel, wat onbekostigbaar is vir die meeste inwoners.

Die waternood moet ook gesien word teen die agtergrond dat die regime van die land grootdoenerig vertel het dat hulle sal sorg dat almal in die land skoon water in die krane sal kry, het ’n inwoner gesê.