Hanekom dink toerisme is goud

Die nuwe Minister van Toerisme, Derek Hanekom, sê die toerisme bedryf is die land se nuwe goud, en moet uitgebrei word tot die grootste bedryf in die land.

Hy sê die bedryf, met sy sowat 617,000 mense daarin werksaam, is aansienlik groter as die mynbedryf van die land en bied 4,6% van die land se arbeidsmag ’n leefbare inkomste.

Hy wys daarop dat as indirekte werkgeleenthede ingesluit word, werk 1,4 miljoen mense, of sowat 10% van die arbeidsmag in die toerisme bedryf.

Suid-Afrika ontvang tans sowat 10 miljoen besoekers per jaar wat ’n bydrae van meer as R93 miljard lewer.

Hy wil glo die toerisme bedryf bevorder en gaan daaraan werk sodat Suid-Afrika teen 2020 een van die wêreld se voorste toeristebestemmings word.

Die Departement Toerisme se totale begroting vir die boekjaar 2014-’15 is R1,6 miljard.

Hanekom, wat voorheen ook die amp as adjunk-minister van Landbou beklee het, het in omstredenheid verval toe dit blyk sy eie boerdery is nie ’n klinkende sukses nie.