Galbraking oor singers van "Die Stem"

Die singery van "Die Stem van Suid-Afrika" deur die sanger, Steve Hofmeyr,  het tot ‘n galbrakery gelei oor wat beskryf word as “ ’n sin vir kanniedood idealisme” ("die-hard sense of idealism").

‘n Senior redaksielid, Haji Mohamed Dawjee, vaar in ‘n Engelse weekblad, Mail en Guardian uit teen ‘n “minderheid binne ‘n minderheid” wat dink dit is reg om die Vierkleur by rugbywedstryde te laat wapper. Volgens haar is dit ook dieselfde mense wat klou aan ‘n verlede wat volgens haar nou reggestel is deur “hierdie demokrasie”. Dan is daar diegene wat “kultuurfeeste en byeenkomste” soos Aardklop en Innibos gebruik om ‘n ideaal van “ons” en “hulle” met die vryheid van spraak te simboliseer. Dawjee, die sosiale redaktrise van die Mail en Guardian, vind dit ook “aanstootlik maar ‘okay’”.

Sy het dit ook teen die eerste verse van “Die Stem”, en in besonder teen die “ons” van: “Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see”. Op een of ander manier pas dit haar bepaalde redenasie om die “ons” na “julle” (of waarskynlik bedoel sy eintlik die enkelvoud, naamlik “jou”) te wil verander, en dit sou volgens haar beteken dat “jy steel van al die mense in die land. Met watter doel?”

Dan spreek sy die “you” direk in haar kommentaar en maak die uitspraak dat: “julle sal waarskynlik moet afsien van die ideale wat julle superieur laat voel, maar dit is vir ‘n groter doel”. Vir haar gaan dit oor "demokrasie, menseregte en gelykheid – minder misdade teen die mensdom en minder politieke indiskresies.”

Sy sleep ook “vermeende vendettas teen boere (“farmers”)” by om haar argument te probeer staaf teen blankes en hul verlede, ideale en dies meer, wat haar “aanstoot” sou gee. So tussen die lyne gelees en uitdruklik gestel, moet sulke blankes baie dankbaar wees vir die vryhede wat wel toegelaat word. Eintlik as ‘n toegif, maar…

*Op hierdie planeet genaamd, Aarde, in Suid-Afrika word daagliks in die media berig oor hoe daardie “demokrasie” met al sy ‘edele’ terme werklik lyk. En die praktyk is ‘n opperste tragedie van ‘n volslae mislukte land. Geen kommunistiese jargon wat rond en bont gesteel is oor “menseregte” en “gelykheid” of ander politieke wensdenkery sal die praktyk van wat werklik in Suid-Afrika aangaan, kan ontken nie. Eweneens kan volkskap ook nie ontken word nie, want nasies is kunsmatige samevoegings wat deur die hele geskiedenis van die mensdom altyd misluk het.

Foto – Haji Mohamed Dawjee