"Die Stem van Suid-Afrika" in die kalklig

Dit is gróót nuus in die gedrukte en internetkoerante én sosiale media "Die Stem" is by Innibos-kunstefees op Nelspruit deur Steve Hofmeyr gesing. En meer as 45 000 het uit volle bors saamgesing toe hy soos hyself sê die "polities inkorrekte kans gevat het" en dit gesing het.

   Die reaksie vanuit bepaalde kringe op die sing van "Die Stem" by die pas afgelope Innibos-fees op Nelspruit dra enersyds die boodskap oor: wees skaam vir die volkslied.

Die redakteur van Beeld, Andriaan Basson, twiet aan Steve: "wat het jy nou eintlik daarmee bereik?" Basson se houding teenoor Afrikaners het al die afgelope tyd gesorg vir ‘n klag of twee by die persombudsman.

En die bestuur van In-die-Bos wil Steve spreek asof hy ‘n aartsonde of ‘n misdaad teen die mensdom gepleeg het. Maar andersyds steun die publiek, altans baie van hulle, Steve se singery van "Die Stem" by Innnibos.

Meer as 45 000 mense sing "Die Stem" by die fees uit volle bors, want hoe vergeet mens ooit jou wortels, jou volk se lied?

   En wie se propaganda moet ons almal ‘bedank’ vir hierdie skuldkompleks dat "Die Stem" dan sou "polities inkorrek" wees? Die linkses wat die weg voorberei het vir die Afrika-kommuniste se onderploeging van die land, waar God en sy gebod nie geld nie.

  Wat sou daardie briljante skepper van "Die Stem", CJ Langenhoven, gesê het aan diegene wat sonder enige volksidentiteit en volkstrots vir hulle eie Afrikanervolk menings opper en kommentare lewer op die sosiale media oor die Afrikanervolk se enigste volkslied, "Die Stem" en die sing daarvan? Hy sou onder meer kon sê in daardie wonderlike spreuke van hom:  “Hou jou glimlag vir jou vyand, jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou ewemens, jou oordeel vir jouself en jou gewete vir jou God.”

Of strakkies sou hy kon gesê het: "’n Man of vrou wat nie lief is vir hul eie volk nie, is ook nie welkom by enige ander volk nie."