Derduisende Moslems betoog in Kaapstad teen Israel

Die ANC-regime se Departement vir Buitelandse Sake het deur middel van die Israelse ambassadeur in Suid-Afrika, Arthur Lenk, gevra vir ‘n onmiddellike skietstilstand in die Gasa-konflik.

Verskeie eise is deur die departement se adjunk-minister, Nomaindia Mfeketo, aan Lenk oorgedra oor die beëindiging van die vyandelikhede.

‘n Pro-Palestynse betoging van derduisende mense is ook in Kaapstad buite die parlement gehou om teen Israel se optrede in die Gasa-strook beswaar te maak. Die protes is deur die Moslem regterlike raad in samewerking met die “Economic Freedom Fighters” (EFF) gehou.

Die betogers, waarvan die meeste in tradisionele Moslem-drag geklee was, is deur ‘n EFF-parlementslid toegespreek. Sy het vanaf die agterkant van ‘n vragmotor die onderneming gegee: “ons gaan na Gasa…ons beloof solidariteit aan die mense in Gasa.”

Baie Moslem-betogers het anti-Israelse plakkate rondgeswaai en ‘n groot Palestynse vlag is ook vertoon. Die spreker, ene Moonsamy, het ‘n beroep op die regering gedoen om die Israelse  ambassadeur in Suid-Afrika terug te stuur en om Suid-Afrika s’n uit Israel te onttrek. ‘n Memorandum is later aan die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir internasionale verhoudinge oorhandig.