Concordia uiteindelik vlot gemaak

Die luukse passasiersboot, die Costa Concordia, wat in 2012 op die rotse geloop, is uiteindelik weer vlot gemaak en dryf weer sodat dit weggesleep kan word om as skroot verkoop te word.

Die eens pragtige passasierskip van bykans 300 meter lank het aan die kus van die eiland Giglio omgeslaan nadat dit op die rotse geloop het.

Die skip moes stuk-stuk gereed gemaak word en gaan nou na Genua gesleep word om afgetakel te word as skroot.

Woordvoerders van die projek meen dit kan ’n volle week duur om die eens spoggerige vaartuig gereed te kry vir sy laaste tog wat ook sowat vyf dae kan duur tot by sy eindbestemming.

Die vaartuig se ongeluk het die dood van 32 mense veroorsaak. Uit 70 lande was daar 4,229 mense aan boord toe die voorval plaasgevind het.