Bly weg van dié hospitaal

Aletta van Dyk was so geskok oor haar pa se dood in die Middelburg staatshospitaal, dat sy mense gewaarsku het om weg te bly van die plek, want as jy daarheen gaan vir behandeling, is jy oppad na jou graf.

Haar pa, Elmo (57), is in Junie met ’n ambulans na die Middelburg-hospitaal geneem.

Hy het aan Parkinson-siekte gely en by die hospitaal aangekom, moes hy self ongevalle afdeling toe stap, en daar sit en wag tot elfuur die nag om opgeneem te word.

Aletta sê die behandeling by die plek is skrikwekkend en onmenslik, want in twee weke se tyd in die hospitaal het die personeel hom niks gegee om te drink nie en hom nie gehelp om te eet nie.

Ander pasiënte in dieselfde saal het sy kos gesteel en een het mev. Van Dyk sommer in die gesig geklap toe sy besoek gebring het .

Wat blykbaar die mees onaanvaarbare optrede van die hospitaal personeel is, word toegedig aan die veiligheidspersoneel wat met skokstokke rond stap en pasiënte skok wat moeilik is.

Vuil komberse, krane wat nie werk nie, mediese afval wat rondlê, geen toiletpapier nie, en ’n ernstige tekort aan skoonmakers maak van die hospitaal ’n plek waar pasiënte se siektes meer word, word gesê.

Aletta sê haar pa het naar geword en vermeer. Sy wou dit skoonmaak maar daar is niks waarmee dit skoongemaak kan word nie, en die personeel het aanbeveel dat sy die laken gebruik om dit skoon te maak.

Twee weke later is haar pa oorlede. Sy lewelose liggaam het sowat ses uur lank daar bly lê voor die familie kennis gekry het dat hy oorlede is.

By navraag het Dumisani Malamule, ’n woordvoerder, gesê die LUR besoek tans hospitale om vas te stel watter probleme hulle het.