Blanke paartjie besteel winkels

In Bloemfontein is ’n blanke paartjie besig om amok te maak by die kleiner winkels by vulstasies waar hulle sjokolade en Grandpa-hoofpynpoeier op groot skaal steel.

Minstens vyf vulstasies het al deurgeloop in die stad.

Mnr. Jannie Kruger, die bestuurder van ’n Engen-vulstasie sê hulle het onlangs bewus geword van die paartjie se stelery.

Hulle besoek die winkels en konsentreer op blokke sjokolade en Grandpa’s.

Hulle het die betrokke dag ’n voorraad hoofpynpoeiers in die rak gepak, en die volgende dag was alles weg. Dieselfde het met sjokolade gebeur.

Hy sê die paartjie steel sowat 40 tot 50 sjokolade blokke op ’n slag en is nou op die een winkel deur middel van kameras geïdentifiseer.

Die paartjie was byna betrap toe hulle ook by ’n bekende kettingwinkel probeer het om sjokolade te steel, maar toe hy aangekeer word, het hy blitsvinnig weggehardloop.

Die plastieksak wat hy laat val het, het meer as 40 Cadbury-sjokolades bevat.

Werkers sê die paartjie groet almal heel hoflik, stap tussen die rakke deur en raak stil-stil weg

Hy is gebore is om fyn te steel,” het Kruger gesê.

Die verliese word nou op R20,000 per maand bereken as gevolg van diefstal, en daarom is die hulp van ’n private speurder ingeroep.

Alhoewel sekere winkels toegerus is met kameras, is dit nie van waarde as die skelms nie fisies gevang kan word nie, het een winkelier gesê.