Baba doen brandwonde op in hospitaal.

‘n Baba, Juan Venter van Boksburg, was skaars twee dae oud toe hy in die Bertha Goxwa-hospitaal in Germiston ernstige brandwonde opgedoen het.

Die babaseuntjie, wat nou vier weke oud is, is kort ná sy geboorte met ’n elektriese kombers (heating pad) in die hospitaal gebrand. Sy knieë, toontjies en regterarm is gebrand. 

Marianne Pienaar (25), sy ma, het gesê sy wou vir haar kind warm klere aantrek en ’n kombers oor hom gooi, maar die verpleërs het geweier. Volgens hulle gebruik die hospitaal slegs hul eie komberse omdat dit higiënies is, het Pienaar gesê. 

Toe Juan ‘n dag oud was, was hy blou van die koue. Sy wou vir hom warm klere aantrek, maar twee van die verpleegsters het gesê sy mag nie. 

Die volgende oggend het die baba onder ’n silwer elektriese kombers gelê. Die kombers was vuurwarm. Toe sy dit oplig, was daar groot geel blase op sy knieë, tone en arm gewees. Die verpleërs wou nie vir haar sê wat gebeur het nie.

Een het selfs die vermetelheid gehad om vir haar te sê die kind is so gebore. 

Daarna het ‘n dokter aan haar drie verskillende oorsake vir die blase gegee. Eers was dit bloedklonte wat gebars het; toe is die kind met septisemie gebore en ‘n paar dae later moes hulle hoor die baba het gangreen. 

Twee weke later het die wonde swart geword. Die seuntjie is na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal oorgeplaas. Daar is toetse gedoen, maar die wonde is nie behandel nie. Juan is Donderdag uit die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal ontslaan. 

Pienaar het hom onmiddellik na ’n private pediater vir behandeling geneem. Dié dokter het bevestig dat die babaseuntjie wel gebrand het. Hy moet nou fisioterapie kry weens die brandwonde op sy bene.