Afrika gaan praat met Obama

’n Hele span leiers uit Afrika gaan met pres. Barack Obama van Amerika praat oor vrede, demokrasie, sekuriteite en verwante sake.

Pres. Jacob Zuma sal die Suid-Afrikaanse span aanvoer wanneer hulle volgende week die Amerikaner besoek.

Die samesprekings word gevoer onder die vaandel van die eerste Amerika-Afrika-leiersberaad (USALS) en sal vanaf 4 tot 6 Augustus in Washington gehou word.

Obama het glo verskeie Afrika-leiers genooi om deel te word van die sogenaamde Amerika-Afrika Leiersberaad (USALS) en het ten doel om “die verhouding tussen Amerika en Afrika te verbeter.

Ingeligte ontleders meen dat Afrika nou ’n kookpot word van terroriste bedrywighede, wat die lande van die kontinent redelik weerloos laat aangesien nie een van hulle oor die militêre slaankrag beskik om die terroriste soos Boko Haram en Al-Kaida hok te slaan nie. Hulle vrees dat die terroriste selfs daarin kan slaag om regerings omvêr te werp, en wil nou die groot moondhede misbruik om hulle eie veiligheid te verseker, word gesê.

Teenoor dié oogmerke, is Amerika van mening dat hulle die Afrika-lande se goeie gesindheid kan behou, en daarmee dalk ’n hand kan lê op die minerale van Afrika deur sekere versoeke en bekommernisse aan te spreek.

’n ANC woordvoerder sê sekuriteits- en konflikkwessies op die Afrika-kontinent sal hoog op die agenda wees.