Swartoognooi / Black-eyed Susan / Thunbergia alata

Tuiniers, pas hierdie naam “Swartoognooi” darem nie te pragtig by hierdie rankplant nie. In Suid Afrika het hierdie plant met sy mooi blommetjie al ‘n ereplek op ons posseëls gekry. Dit is ‘n baie bekende ranker in ons tuine en ook ‘n geharde plant wat nie baie aandag nodig het nie. Dit is ‘n meerjarige rankplant van die familie Acanthaceae en die genus is Thunbergia en die spesie is alata. Swartoognooi kom oorspronklik uit Oos Afrika en het ook baie goed aangepas in omtrent die res van die warm klimate van die wêreld. Dit is dan ook ‘n ornamentele ranker met sy pragtige geel tot diep oranje blommetjies met die swart ogie.

In tropiese areas word Thunbergia alata tussen 1,8 tot 2,4 meter hoog. Hierdie ranker groei vinnig en is ‘n sagte plant en het baie stingels wat inmekaar geweef is. Die blare van die plant is hartvormig of pylagtig en nogal dig langs die stingels op. Die blaartjies is harige en getand. Die blommetjies het 5 blaartjies en hierdie ranker blom omtrent regdeur die groeiseisoen. Daar is in die tropiese gebiede ook blomkleure gevind wat neig na rooi / donker geel en selfs wit. Sommige van hierdie variëteite het nie die bekende swart ogie nie. Die saad lyk soos ‘n voëltjie-kop met ‘n lang bekkie.

Swartoognooi groei in enige tipe grond en benodig net matige natleiding en is ‘n baie vriendelike rankplant. Swartoognooi kan ook in hangmandjies en potte geplant word. Die plant is meestal regdeur die jaar groen en waar maak openinge in u tuin baie gou mooi. Hierdie plante word met saad voortgeplant. Die beste is om die saad oornag in warm water te week, wat die ontkieming sal aanhelp. Hierdie plante groei sommer baie vinnig en blom ook vinnig en lank.

Die blomme word hoofsaaklik deur bye bestuif. Dit is die heldergeel / oranje kleure wat die insekte na hierdie blomme lok. Dit kan ook goed teruggesny word in die lente wat blomontwikkeling sal help.

In Oos Afrika, word dit gebruik as ‘n groente aftreksel en word ook medisinaal gebruik vir vel probleme, gewrigspyne en ook oog inflammasies. Sommige diere word ook daarmee behandel teen karsiekte. Daar is wel sommige mense wat ‘n velirritasie van hierdie plant kan ontwikkel. Daarom is dit raadsaam om eers u geneesheer te raadpleeg alvorens enige kruiebehandelings toegepas word.

Tuiniers, die winter is halfpad. Kry solank die snoeiskêr en ander gereedskap gereed, met roosvoedsel byderhand, want dis nie meer lank nie dan kan ons begin rose snoei en voedsel toedien.

Geniet die rustigheid in u tuin tot volgende keer.