Koljander / dhania / cilantro / Chinese pietersielie…

Koljander is baie bekend aan ons almal. Dit is ‘n  spesery wat algemeen gebruik word in allerhande geregte van sop tot kerries en in slaai in Suid Afrika. Dit is ‘n jaarplant en in die familie Apiaceae. Dit word wêreldwyd aangetref en kom oorspronklik van Suid Europa en Noord Afrika en ook Suidwes Asia. Dit is ‘n sagte plant en word tot 50 cm hoog. In sommige lande groei koljander wild deurdat hulle hulself versprei deur die sade. Dit groei baie maklik met saad wat nogal vinnig ontkiem.

Die plant se blare is lobvormig aan die stingel se kant en dun en vererig na die bopunt en is helder groen. Koljander plante dra trossies klein wit na ligte pienk blommetjies aan ‘n stingeltjie. Die vruggies ken ons baie goed, dit word gebrand en dan gemaal of gestamp of heel in geregte gebruik. Dit is 3 – 5 mm in diameter. Dit is ‘n basiese krui wat in boerewors gebruik word. Die blare word meestal in slaai en sop gebruik. Die hele plant kan in geregte gebruik word want elke deeltjie is eetbaar. Ruik sop, kerrie en ander warm geregte darem nie heerlik met vars koljanderblare in nie?

In die laat 14de eeu is die woord “coriander” afgelei van die Latynse woord “coriandre”. Cilantro is die Spaanse woord vir koljander wat ook van die woord coriandrum afkomstig is. Dit moet egter nie verwar word met “culantro” wat familie van koljander is nie. “Culantro” het ‘n heeltemal ander vorm en ook ‘n baie sterker aroma as ons gewone koljander.

Die gedroogde sade van koljander word baie deur die Indiërs in hulle kerrie geregte gebruik en hulle noem dit “dhania”. Meeste mense gebruik net die koljander saad en glad nie die blare nie. Wanneer die sade gekneus of gestamp word het dit ‘n warm, neuterige spesery smaak. Die sade verskaf matige kalsium, magnesium en yster aan ons liggame. Koljander saad is ook ‘n spesery wat in garam masala gevind word en die lekkerste kerriegeregte word hiermee gekook saam met die gebruik van komyn. Sommige mense eet ook die geroosterde koljander saad as ‘n versnappering. Dit kan ook gekook word in water en wanneer afgekoel, gedrink word as teenmiddel vir verkoue.

Ons weet ook dat koljander saad gebruik word om groente in te lê en selfs ook wanneer kerrieperskes ingelê word. In Rusland gebruik die mense koljander saad ook in rogbrood as alternatiewe spesery vir karwysaad. Daar word ook van koljander saad gebruik gemaak deur die Belgiërs in die maak van koringbier. Dit word saam met lemoenskil gekook en gee sodoende aan die bier ‘n sitrussmaak.

Tuiniers, onthou om vanaand heerlike warm sop met sommer baie vars koljander blaartjies, fyngekerf te kook en te geniet. Tot volglende keer.