Derduisende volg Die laaste Boere van Patagonië

Aanhangers van die kortfilm, Die laaste Boere van Patagonië kry op Vrydag, 13 Junie die geleentheid om ‘n vertoning daarvan tydens die Encounters Internasionale Dokumentêre Filmfees in Johannesburg by te woon.

  Die vertoning daarvan op 8 Junie in Kaapstad het ‘n volgepakte saal getrek. ‘n Foto op bakkiesblad toon dat veral jonger mense die vertoning bygewoon het.

   Mense van onder andere plekke soos Aus in Suidwes-Afrika, Pietersburg en Pretoria in Noord-Transvaal asook ‘n Suid-Afrikaner in Amerika smeek dat hulle ook uiteindelik vertonings van die kortfilm sal kan sien. Meer as 3 000 aanhangers het al op die bakkiesblad oor die kortfilm aangemeld. Een van hulle vertel dat hy saam met ‘n man werk wie se grootouers van Argentinië teruggekeer het. (Afgesien van Boere van deur die jare sedert hulle vestiging in Patagonië na die Tweede Vryheidsoorlog na Suid-Afrika teruggekeer het, het ‘n groep Boere in 1938 teruggekeer). Benewens diegene wat die kortfilm plaaslik óf in ‘n buurland wil sien, is daar baie groot belangstelling by Suid-Afrikaners wat oorsee woon.

  Een van die wonderlike aksies wat gevolg het op die Kaapstadse rolprentvervaardiger, Richard Finn Gregory, se kortfilm oor die Boere-nasate in Patagonië (in die suide van Argentinië) is dat mense in Suid-Afrika se aandag opnuut gevestig is op bande wat sommige van hulle met hierdie mense het. Pogings om kontak te maak en ontmoetings te reël, is in die pyplyn.

  Die wye belangstelling in die kortfilm op plaaslike en internasionale vlak toon dat die vollengte dokumentêre film met die pragtige titel, Boere op die aardsdrempel, wat aanstaande jaar vrygestel word, groot aftrek gaan kry.

   Diegene wat meer oor die geskiedenis van hierdie mense wil weet, sal deur die onderhoudende verteltrant in die sagteband heruitgawe van die boek, ‘n Boer in Argentinië, deur Pieter Henning, meegesleur word. Die outeur was saam met sy ouers van die eerste nedersetters na die Tweede Vryheidsoorlog in die Comodoro Rivadavia-omgewing in Patagonië.

Hy vertel hoe van die vestiging aldaar van families met vanne soos: Grobler, Coetzer, Olivier, Evenhuys, De Klerk, West, Henning, Van der Walt, Van Rensburg, Schlebusch, Venter, Van Wyk, Smit en andere. Nog Boere-vanne waarvan hy onder andere vertel in die boek, is: Le Grange, Blackie, Visser en Botha. Uiteindelik sou die skrywer en sy gesin na ‘n paar dekades terugkeer na sy geliefde geboorteland, Suid-Afrika – maar lees meer daaroor in sy boek.

  Henning is ‘n gebore verteller omtrent al die avonture asook voor- en teenspoed wat die Boere-Patagoniërs beleef het. Juis vanweë sy skryfstyl kan ‘n leser hierdie temmers van ‘n baie wilde geweste se pionierswerk met menslike humor en hartseer beleef.

  ‘n Boer in Argentinië is so onderhoudend geskryf dat dit nie neergesit kan word voordat die heel laaste bladsy oor-en-oor gelees is nie. Dit is die tipe boek waarvan ‘n leser ander mense met entoesiasme vertel en altyd ‘n herlees werd is.

   Belangstellendes wat ‘n Boer in Argentinië teen R140,00 (posgeld ingesluit) wil aanskaf kan 074 951 5630 skakel.