Zuma-kabinet grootste ter wêreld

Die nuwe kabinet wat pres. Jacob Zuma saamgestel het, is waarskynlik die grootste kabinet van enige land ter wêreld, en word beskou as die swakste samestelling sedert die ANC die bewind oorgeneem het met bemiddeling van F W de Klerk.

Die kabinet bestaan nou uit 35 ministers en ’n vêrdere 37 adjunkministers, plus sy eie amp en dié van sy adjunk, Cyril Ramaphosa,

Dit bring die totaal van die kabinet op ’n reuse 74 te staan en is een van die grootstes ter wêreld terwyl dit slegs vir sowat 55 miljoen mense is.

Die grootste kabinet is die van Sri Lanka wat 67 ministers het. Suid-Afrika het egter met die uitvoerende gesag van sy kabinet, verby Sri Lanka gegaan as sy adjunkte ingereken word.

Die kabinetslede sal die belastingbetalers in die eerste jaar net meer as R130 miljoen kos, en die verwagting is dat pres. Zuma nie sal huiwer om die bedrag jaarliks aan te pas nie.

Mbuyiseni Ndlozi, ’n EFF-woordvoerder, sê die gemiddelde bedrag wat benewens hul salarisse bestee word op elke minister en adjunkminister vir hulle veiligheid, motors en huise, wat in Kaapstad en Pretoria is, beloop meer as R10 miljoen vir elkeen.

“Dit beteken byna R1 miljard sal bestee word op die nuwe kabinet, en dit voor enige taak deur die kabinetslede verrig is,” het hy gesê.

Politieke analiste sê dit is merkwaardig dat Zuma hierdie keer probeer het om die verskeurdheid in eie geledere te probeer heel met die vergroting van die kabinet om elk van die alliansie vennote ’n possie te gee.

Daarmee beskerm hy homself, want daarmee maak hy van die posbekleërs sommer sy politieke beskermers, maar word die kabinet ook al hoe meer lomp en ondoeltreffend, terwyl behoorlike beheer al moeiliker word, het hy gesê.

.