Werkers gesoek na huisroof

Twee tydelike werkers by ‘n verhuisingsmaatskappy word deur die polisie gesoek i.v.m. ‘n ondersoek na ‘n huisroof by ‘n senior aanklaer se huis.

Marian van der Merwe (53) en haar seun, Rohan (18), is deur twee gewapende mans met klapmusse in hul huis in Mainstraat, Waterkloof, oorval minder as ’n maand nadat hulle ingetrek het.

Omdat sy tevrede was met die verhuisingsmaatskappy wat ‘n vorige verhuising van haar behartig het, het sy weer van hulle diens gebruik gemaak en gevra dat hulle dieselfde span moet stuur.

Eers ná die rooftog het sy verneem dat die maatskappy op dié dag tydelike werkers van die straat af ingeneem het omdat hulle te veel werk op maandeinde gehad het.

Volgens haar het die polisie vasgestel dat twee van die tydelike werkers wat haar trek hanteer het, vroeër met die gereg gebots het weens diefstal. Die trekmaatskappy het hulle die besonderhede van die werkers gegee.

Die rowers het Van der Merwe se agterkop met ’n ysterstaaf oopgekloof en haar geskop en geslaan. ’n Rower het ’n vuurwapen teen Rohan se kop gehou terwyl sy makker sy bebloede ma deur die huis gesleep het op soek na geld, juwele en vuurwapens.

Na twee ure van geweld is die rowers vort met onder meer Rohan se Audi, juwele en ’n skootrekenaar wat aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) behoort.

Van der Merwe het gesê al was haar werkdokumente op die skootrekenaar, is daar niks sensitief daarop wat enige hangende ­sake van die NVG kan belemmer nie. Daar word ook nie vermoed dat die aanval met haar werk verband hou nie.

Volgens Van der Merwe is sy na ’n neurochirurg verwys omdat sy steeds van balans af is weens die erge harsingskudding wat sy weens die aanval opgedoen het. Haar regteroog is steeds blou en sy ontvang berading.