Vrou deur drie boerboele aangeval

Drie boerboele het ‘n laerskoolonderwyseres van Pretoria aangeval toe sy gaan stap het.  

Runé du Plessis (51) moes tussen 400 en 500 steke oor haar hele lyf kry en is nog onder sterk verdowing in die Montana-hospitaal.  

Volgens Du Plessis se man, Johan, is dit ’n wonderwerk dat geen senuwee af- en geen organe raak gebyt is nie. 

Die honde het wel stukke vleis uit haar bene geruk. Sy is ook aan die rug en agterkop gebyt en sal Woensdagoggend ’n veloorplanting moet ondergaan. 

Dié ma van twee stap die afgelope agt jaar daagliks in die buurt. Sy het nog nooit onveilig gevoel nie. Saterdagoggend het sy vroegoggend alleen gaan stap. Toe sy in Hawkstraat stap, het die boerboele deur ’n opening in ’n hek gekom, haar platgetrek en oor die teer gesleep, het Du Plessis gesê. 

’n Ouer van die skool wie se kind sing in die Nagtegallies-koor, wat deur Du Plessis afgerig word, woon langs die honde se eienaar en was toevallig buite toe dit gebeur. 

Hy het die honde met ’n besem verjaag en Du Plessis se seuns en die ambulans ontbied. Die honde het uitgekom deur ’n gleuf wat oopgelaat is toe ’n klip die elektroniese hek se pad versper het.  

Du Plessis sê hy het met die honde se eienaar gepraat en aanvaar dit was ’n ongeluk. Hulle koester geen kwade gevoelens nie. 

Steve Njiiri, eienaar van die honde, het gesê hy gaan die honde, twee reuns en ’n teef, van kant laat maak. Volgens hom het hy die honde vandat hulle twee weke oud is en was daar nog nooit voorvalle nie. Hy het self twee klein kinders. 

Die honde is bedags in ms agterplaas, maar saans word hulle in die voortuin losgelaat omdat hulle deurloop onder misdaad.  

Die polisie ondersoek ’n saak van die aanhou van ’n gevaarlike hond teen hom.