Thuli se teenstanders uitgeskop

Die drie ministers in die sogenaamde veiligheid-groepering wat betrokke is in die hofgeding teen adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer (OB), om haar Nkandla-verslag te laat hersien, is uit hul poste verwyder.

Minstens drie nuwe ministers sal hulle plekke inneem.

Faith Muthambi, sal die regering se propaganda bestuur, Buti Manemela, is adjunk-Minister in die Presidensie, en Lewellyn Landers is nou adjunk-Minister van Internasionale Betrekkinge.

Die drie was betrokke by die ad hoc-komitee wat die Nkandla-kwessie in die parlement help onderdruk het.

Die linkses in Suid-Afrika, veral die liberale Afrikaanse pers se verwagtinge dat pres Zuma ’n kleiner kabinet gaan saamstel, het toe nie waarheid geword nie.

Met die nuwe kabinet soos aangekondig, sal daar nie minder as 71 ministers en adjunkte wees nie.

Jacob Zuma het skokkende nuwe aanstellings gemaak toe hy bekend gemaak het dat Nathi Mthethwa, die gewese minister van Polisie, asook Jeff Radebe, die vorige Minister van justisie, en Siyabongwa Cwele, die vorige Minister van Staatsveiligheid na minder invloedryke poste verskuif is.

Mthethwa is nou Minister van Kuns en kultuur, Cwele die Minister van Telekommunikasie en posdiens en Radebe Minister in die Presidensie.

Pravin Gordhan is ook in pos verlaag toe hy die amp as Minister van Finansies moes afstaan om bankrot munisipaliteite reg te ruk as Minister van Samewerkende regering.

Marthinus van Schalkwyk is sy pos kwyt as Minister van Toerisme.

Tina Joemat-Petterson is vervang as minister van landbou, visserye en bosbou.

Senzeni Zokwana, gewese president van die vakbond NUM neem haar plek in om seker te maak landbou kry meer stakings en onrus.

Pieter Mulder staan sy pos as adjunk van Landbou af aan die korrupte Bheki Cele.

’n Departement van Water en Sanitasie is bekend gemaak, en waarnemers meen dit is om die betogers oor swak dienslewering, te probeer kalmeer.