Taai klappe

Dit is nie net die Europese lande wat met hulle afwesigheid by die inhuldiging van pres. Jacob Zuma, hul gesindheid openbaar het nie.

Dit is ook sy geswore vriende uit die Oosblok, China, Indië, Rusland en selfs Kuba, wat met hulle afwesigheid ’n taai klap uitgedeel het.

Dit is Afrika-state, vriende soos Mugabe en dié javels, wat besluit het om die lekker eet geleentheid by te woon terwyl duisende kospakkies, wat alles met belastingbetalers se geld aangekoop is, aan die hordes uitgedeel is.

Dit was ook opvallend dat Mugabe, die swakste leier van die kontinent, die grootste en langste applous gekry het, terwyl Zuma maar so-so begroet is.

Dit is ook opvallend hoe die links-liberale media van Suid-Afrika die feite probeer verswyg en poog om ’n ophef te maak van die buitelanders wat die inhuldiging bywoon, sonder om te meld wat werklik gaande is.

Die feit is: Die lande wat werklik van belang is en wat vir Suid-Afrika van betekenis is, se verteenwoordigers was afwesig.

Dit is die taaiste klap wat Suid-Afrika kon kry!

Die nuwe “democratic” begin nou klappe kry, en die land se leiers beleef nou dat die aanvanklike ophemeling vanuit die buiteland omgeswaai en bied nou die koue skouer.

Die wiel draai stadig, ook daar in Europa waar behoudende politici die toon aangee met kragtige vertonings in die EU verkiesing.

Die formidabele Marine Le Pen het los voor geëindig met die Franse president in ’n slegte derde plek.

Dit is ’n taai klap na die links-liberales van Europa.

En hier in eie geledere is ook iets aan die gebeur.

Hier word ook ’n taai klap uitgedeel hierdie komende Saterdag.

Op 31 Mei 2014 word ’n nuwe stuk in die geskiedenis van ons volk geskryf. Daardie stuk geskiedenis sal nog van groot betekenis wees in die toekoms wanneer hierdie volk sy vryheid gaan opeis.

Laat ons dan eendragtig wees, en die gebeure van hierdie dag meemaak, sodat ons ook met trots kan verklaar aan ons kinders se kinders dat ons daardie dag teenwoordig was ter wille van volksvryheid!

Redakteur