Stad verkwis miljoene op Afrika-fees

Die stad Bloemfontein het R9.3 miljoen van sy begroting in 2013 spandeer om die Macufe Afrika-fees in Bloemfontein aan te bied, volgens ‘n verslag wat deur die raad vrygestel is. Die Vrystaatse provinsie het R40 miljoen bygedra.
Macufe is ‘n jaarlikse Afrika-kultuurfees wat vir die eerste keer in 1997 deur die stad aangebied is en sedertdien, net soos die uitgawes daarvan, gegroei het.

Die grootste gedeelte van die uitgawes, naamlik R8.3miljoen, is aan bemarking en advertensies spandeer; R400,000 vir klein- en middelslag-sakeondernemings (smouse) en R400,000 vir bedryfskoste. Volgens die verslag stel die stad ook sy lokale en geriewe gratis beskikbaar vir die fees.
In teenstelling met die Macufe-fees spandeer die stad slegs R200,000 elk aan die twee tradisionele Boere-Afrikaner- feeste van die stad naamlik die Vryfees en die Bloemfonteinse Rosefees.

Die uitgawes dek net verkeersregulering en -wetstoepassing.  
Die ANC speaker Mxolisi Siyonzana sê die Macufe-fees doen baie om die stad internasionaal te bemark. In die swart media word die fees beskryf as ‘n fees vir die wat "in hart en siel ‘n Afrikaan is", en dit word duidelik weerspieël in die inhoud, promosie, en die samestelling van die kunstenaars.
Die Macufe-fees ontvang ook befondsing van die Nasionale Lotery se Verspreidingstrustfonds.