Staatshospitale versleg daagliks

Die diens by die meeste staatshospitale in die land is gelykstaande aan die swak geneeskundige dienste in die res van Afrika.

Dit is die siening van ’n geneesheer wat verkies om anoniem te bly nadat die jongste voorval van swak diens onder die aandag van die media gekom het.

Mnr. Charles van Rooyen (49) het ’n nare ervarings opgedoen toe hy aangewys is op mediese diens by ’n hospitaal.

Hy is bekommerd dat hy sy een been kan verloor omdat die metaalplaat wat maande gelede verwyder moes word uit sy been, nog steeds nie gedoen is nie.

Dokters in die Charlotte Maxeke-hospitaal het die metaalplaat in April verlede jaar in Charles van Rooyen (49) se been aangebring nadat hy ’n breek opgedoen het.

Verlede week het hy sowat 12 uur lank gewag om ’n ortopediese chirurg te spreek, en na ’n konsultasie van 10 minute is hy terug gestuur huis toe met ’n paar pynstillers.

Van Rooyen se linkerbeen is net onder die knie gebreek. Hy moes ses maande op ’n bed wag en was sowat 20 dae lank in die hospitaal voordat hy geopereer is. Hy kan nie fisioterapie ondergaan alvorens die metaalplaat verwyder is nie.

Die metaalplaat en skroewe kom al uit en die been pyn verskriklik en hy gebruik omtrent 100 ­pynpille per maand.

Hy is die 9 de April weer na die hospitaal, maar hulle het gesê daar is beddens, maar geen suurstof in die teater beskikbaar nie, so die operasie moet nog wag.

Die metaalplaat moet blykbaar dringend uitgehaal word sodat hy ’n knievervanging kan ondergaan.

Op navraag het ’n hospitaal woordvoerder, ene Mvumvu, gesê Van Rooyen is verlede week in die ongevalle-afdeling besoek en is na ’n spesialis-kliniek vir buitepasiënte verwys. Sy operasie is vir 9 Julie gereël.