So verengels Suid-Afrika

Die stryd om Afrikaans te handhaaf as volwaardige landstaal, word steeds beveg deur die Britte wat onder die dekmantel van weldade, die Engelse taal bevorder ten koste van Afrikaans.

Die is die mening van ’n taalkenner na aanleiding van die jongste gebeure waarin ’n Britse maatskappy besluit het om R28 miljoen te belê in privaat skole in Suid-Afrika.

Pearson, ’n maatskappy wat onder meer onderwysers en leerlinge van leermateriaal voorsien, gaan miljoene Rand inpomp om Spark Schools te help om ’n sogenaamde positiewe impak te maak op leerlinge in die minder bevoorregte groepe.

Volgens Umalusi, is daar meer as 3,500 onafhanklike skole in die land.

Kenners meen die private skole sal toenemend meer word namate ouers begin besef dat die meeste staatskole se standaarde feitlik jaarliks afneem en die leerplanne kondisionering uitoefen op leerlinge.

Alhoewel private skole se skoolgeld in die meeste gevalle hoër is as by staatskole, is die verskil in opvoedkundige waardes ook waarneembaar, is die mening van skoolhoofde in private skole.

In ’n ondersoek is gevind dat talle maatskappye nou in private skole belê om sodoende ook van dié skole ’n sakeonderneming te maak wat winsgewend bedryf word.