So is dit in ‘n Blanke plakkerskamp

Dit is snags bitter koud in ‘n plakkershut en as jy arm is, is honger jou metgesel. Dit is die daaglikse werklikheid vir baie Suid-Afrikaners wat in armoede leef, het 36 studente aan die Universiteit van Potchefstroom (NWU) die afgelope week besef.

Dié studente van die Patria-manskoshuis op die Potchefstroom-kampus woon sedert Maandag, verlede week, onder streng armoedereëls in plakkershutte op die koshuisterrein.

Estiane de Lange, huis­komiteelid vir die studente-jool-gemeenskapsdiens (SJGD), vertel dié bewusmakingsprojek by die koshuis het verlede jaar met net ses studente begin.

Vanjaar was die reaksie oorweldigend en 36 studente wou deel daarvan wees.

Die studente (gelukkig studeer van hulle ingenieurswese) het die ses hutte self gebou met sinkplate wat hulle by plaaslike ondernemings geleen het. Ses studente woon saam in ’n hut, elk met ’n rantsoen van R15 per dag. Op die vloer is net karton­houers en daar’s ‘n keuse tussen ’n kombers en ’n slaapsak.

Langbroeke word nie toegelaat nie en jy mag net een baadjie hê, het De Lange gesê. ’n Afskorting is ook gebou waarheen die studente water in ’n skottel moet dra om te was.

Hy sê vleis is ‘n luukse wat hulle nie kan bekostig nie. Hulle gooi maar die geld saam en leef van van goedkoop kos soos pasta, rys en sous, pap, roosterkoek en brood, want dis die goedkoopste.

Hulle is genoodsaak om die gate met koerantpapier toe te stop en styf teen mekaar te lê om die koue uit te hou, sê De Lange.

Marinus Pawson sê dit is moeilik want ‘n mens is die hele tyd honger.

Van die studente sê dat hulle was op skool saam met kinders wat in plakkerkampe was, maar het nie geweet dat hulle so swaar gekry het nie.