Sneeubos / Snow bush / Ice cream bush .. Breynia disticha

 

 

Tuiniers, hierdie is ’n pragtige struik wat nie te groot word nie. Sneeubos groei baie goed in kustuine, veral langs die Natalse kus. Sneeubos groei eintlik baie goed in ’n tropiese klimaat, daarom sien ons so baie van hulle in tuine langs die Natalse kus. Die plante kan ‘n winderige klimaat goed weerstaan. Breynia disticha is in die familie Euphorbiaceae en bereik ’n hoogte van 1 – 2 meter en is mooi gevormde ronde boompies. Dit is ook ’n immergroen plant en raak nogal ’n digte boompie.

 

Breynia disticha is n ronde struik en word hoofsaaklik geplant vir die pragtige loof. Die blare is klein en wissel van groen, wit, pienk en rooi en die takkies is dun. Dit maak ’n baie mooi heining wat nie te hoog moet wees nie. Hierdie struik groei beste in volson. Indien dit in skadu geplant word, sal die boonste blaartjies geneig wees om meer wit te wees as donker pienk. Die struik maak klein wit blommetjies wat ons amper nie eers raaksien tussen al die gekleurde blaartjies nie. Die naam “Sneeubos” pas so goed om hierdie struik te beskryf, want dit lyk mos of daar sneeu op die boompie se blare geval het.

 

Sneeubos kan ook binnenshuis geplant word, maar is dan geneig om siektes soos, witvlieg en spinnekopmyte te kry en indien te veel water binnenshuis toegedien word, sal die plant nie juis floreer nie. Die beste is om dit buite te plant in volson. Hierdie struike word nie maklik by kwekerye gevind nie.

 

Hul groei van steggies. Hul kan in suurgrond geplant word maar sal ook alkaliese grond oorleef en groei baie goed in sanderige goed dreinerende grond. Plant hulle minstens 30 cm uitmekaar. Die stammetjies van die boompies is rooi-kleurig en dun en breek maklik af. Sneeubos groei stadig maar vertoon baie mooi veral langs ’n muur of heiningdraad wat weggesteek moet word.  Die takke is sag en hang maklik oor ’n muur sonder om af te breek. Indien hulle in volson geplant word, moet hulle gereeld water kry ander sal die loof verlep vertoon.

 

Geniet u tuin en onthou die rypdoek vir u rypgevoelige plante. Ons kan ook darem nou minder water toedien aan die grasperke. Geniet u koppie tee in die wintersonnetjie.