Seriti ondersoek duur voort

Gedurende die week sal ’n woordestryd in die hof gevoer word tussen die fluitjieblaser en die admiraal wanneer die kommissie sy werksaamhede hervat.

Na bewering wil S. adm. Johnny Kamerman (afgetree) as voormalige projek offisier, die bewyse neersit en aantygings weerlê oor die aanskaffing van twee vloot fregatte.

Die bewerings wat glo deur Andrew Feinstein en Paul Holden gemaak is dat korrupsie en omkopery plaasgevind het, sal blykbaar met bewyse weerlê kan word.

Kamerman wil glo ook getuig oor hoe Young se maatskappy, C2I2, vier van die sewe vlootkontrakte gekry het waarvoor getender is, maar hy het nie die kontrak vir die verskaffing van die gevegsuites vir die fregatte, wat na bewering die grootste subkontrak was, gekry nie.

Dit blyk dat die getuienis wat tot hede gelewer is, spreek van afguns, korrupsie en ongerymdhede, maar dat dit nog geruime tyd sal duur voor die volle waarheid bekend sal wees.

Regter Willie Seriti, wat optree as voorsitter van die kommissie wat die hele wapentransaksie skandaal ondersoek, het nog twee maande tyd om die laaste getuienis aan te hoor.