Sani-pas – nog ‘n duur pad

 Die Sani-pas gaan nou ook van die ou Goeie Hoop Handelspos tot by die grenspos aan die bopunt geteer word. 

Dit gaan die Suid-Afrikaanse belastingbetaler sowat R887 miljoen kos om dié 19 km, wat uit verskeie bergpasse bestaan, te teer.

Volgens die Departement van Vervoer in Natal het Edna Molewa, minister van Omgewingsake, verlede week die groen lig gegee vir die teer van die res van die pad, wat tot nou toe net vir viertrekvoertuie toeganklik was. 

Teerwerk aan die eerste 14 km van die Sani-pas sou aanvanklik net ’n jaar geduur het, maar dit het ses jaar gevat om dié “redelik maklike” stuk pad te teer, het Russell Suchet van die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) gesê. Dié projek het R233 miljoen gekos. 

Dit gaan dus net “duskant of anderkant” ’n miljard kos om die sowat 33 km bergpasse te teer. 

Willies Mchunu, die Natalse LUR vir Vervoer, het in ’n verklaring gesê die doel met opgradering is om handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Lesotho te bevorder. 

Kenners meen die werk is nie net ‘n onnodige uitgawe omdat bitter min mense van die pad gebruik maak nie, maar gaan ook bydra tot die verskerping in veediefstal in die gebied.

Die mening is ook uitgespreek dat die geld eerder gebruik moes word om bestaande paaie, wat hoë verkeer dra, wat reeds onbegaanbaar is, in stand te hou.