RSA soldate vas in DRK

Sowat 1400 soldate van Suid-Afrika sit vasgevang in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) nadat chaos ontstaan het met huurvlugte wat hulle na 12 maande se diens in die land, moes terugbring na SA.

Die soldate wat as plaasvervangers na die DRK moes gaan, sou met dieselfde vliegtuie daarheen vervoer word, en sit nou angstig en wag om geneem te word, maar die vlugte is vir ’n onbepaalde tyd uitgestel.

Sekere vliegtuig maatskappye dreig om die SA Weermag na die hooggeregshof te sleep weens die vertragings wat ingetree het.

Die gesloer van die Weermag kan Suid-Afrika nie net in ernstige verleentheid bring nie, maar kan ook miljoene Rand se eise beteken.

Dit is nie die eerste keer dat daar probleme ontstaan met huurvlugte nie, en die huidige vertraging word glo toegeskryf aan rompslomp by die administratiewe afdeling van die Weermag, alhoewel dit nie bevestig kon word nie.

Kenners sê die probleme word toegeskryf aan onkunde oor die huurvlugte en korrupte personeel wat met bedrieglike motiewe bepaalde kontrakteurs bevoordeel.

Siphiwe Dlamini, ’n hoofwoordvoerder van die Departement van Verdediging, sê ’n noodvergadering word gehou.