RSA betrokkenheid by DRK bring miljoene

Die betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse Weermag se soldate in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) bring sowat R110 miljoen terug na die staatskas.

Wat egter vreemd is, is dat die miljoene Rand nie na die bankrot weermag van die land teruggaan nie, maar word aangewend in enige ander Departement waar dit benodig mag word.

Die ANC-regering misbruik die land se soldate, maak geld, en gee dit dan vir ander departemente, is die siening van ’n politieke analis van Pretoria.

Die mening is ook uitgespreek deur Andre Roux, navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie.

Die woordvoerder van Verdediging, Siphiwe Dlamini, sê dat R100miljoen ’n beraamde syfer is.

Volgens Roux is die tariewe wat deur die Verenigde Nasies (VN) aan die SA weermag betaal aansienlik. Vir elke soldaat teenwoordig in die DRK, ontvang die ANC regering R10,200 per maand en vir spesialis soldate betaal die VN tot R30,000 per maand.

Vir elke voertuig word R35,000 betaal en vir ’n Rooivalk helikopter R100,000 per maand.

Daar is op die oomblik 1,200 soldate van Suid-Afrika in die DRK.

Toerusting met ’n diensbaarheid van minder as 70% word nie deur die VN aanvaar nie en daarvoor word niks betaal nie. Die RSA weermag sukkel reeds jare om hulle toerusting en voertuie op ’n 70% vlak te kry.