Prokureur weier ondersoek na trustrekening

‘n Johannesburgse prokureur, Ronald ­Bobroff, weier dat die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies (PONP) toegelaat word om sy boeke, waaronder sy trustrekening, ondersoek word.

Bobroff en sy seun, Darren, vra die hooggeregshof in Pretoria vir verlof om te appelleer teen ’n bepaling in ’n hofbevel wat die orde gelas en magtig om dié ondersoek binne 30 dae te doen.

In hofstukke voer die Bobroffs aan dat die hof met dié bepaling gefouteer het, al is die res van die hof­bevel in die geding met sy voormalige kliënt, Jennifer Graham en haar man, Matthew, korrek.

Die Grahams het die hof gevra om die orde te dwing om die trustrekening van die ­Bobroffs se firma, ­Ronald Bobroff & Partners, te ondersoek. Volgens die Bobroffs het die bepaling in die bevel dit egter veel wyer gevat deur die orde nie net te gelas om die trustrekening te ondersoek nie, maar ook die firma se finansiële boeke vir ’n onbepaalde tydperk.

Die Bobroffs voer aan die bepaling in die bevel is strydig met die res van die uitspraak.

Die Grahams het die hof gevra om die tugondersoek teen Bobroff uit die orde se hande te neem en gesê die orde laat toe dat Bobroff die ondersoek sloer.

Die hof kon geen gronde daarvoor vind nie, maar het die orde gelas om die ondersoek na hul klag binne 60 dae af te handel.

Die probleme spruit voort uit die konstitusionele hof se uitspraak in Februarie oor prokureurs soos die Bobroffs se oortaksering van rekenings. Die hof het bevind dit is ongrondwetlik vir prokureurs om kliënte meer te vra as dit waarvoor die Wet op Gebeurlikheidsgeld voorsiening maak, selfs al stem die kliënt in.