Polisiebeamptes die verkragters

In die Wes-Transvaalse dorp Delareyville, het meer as een polisiebeampte ’n minderjarige dogter in ’n polisievoertuig gelaai, haar na haar woonplek geneem en haar toe verkrag.

’n Polisiewoordvoerder in die provinsie het bevestig dat aanklagte van statutêre verkragting ondersoek word, maar wou nie sê of dit polisielede is wat ondersoek word nie.

Die kind se ma het glo te kenne gegee dat daar sedert Maart nog geen vordering met die saak is nie, en die dogter moes intussen ’n maatskaplike werker in Lichtenburg gaan spreek.

Dit blyk ook dat een saak geregistreer is by die polisiekantoor terwyl daar glo meer as een beampte betrokke is by die verkragting.

Die ma het ’n klag by die plaaslike polisiekantoor gaan indien nadat sy huis skoongemaak het en op haar dogter se dagboek afgekom het.

In die dagboek het die dogter datums en name van onder andere polisielede aangeteken en geskryf hoe hulle haar opgelaai het na haar huis en omgang met haar gehad het.

“Ek het ook antibiotika-pille en ’n gesin-beplanningskalender in haar kamer gekry,” het die ma gesê.