Padfonds mors belastinggeld

Die Padongelukkefonds (POF) is besig om miljoene Rand van die belastingbetalers se geld te vermors met nuwe irrasionele en belaglike besluite wat geneem word.

Selfs die Swart Prokureurs Assosiasie (BLA) is gebelgd oor die feit dat hangende sake na ’n nuwe paneel van prokureurs verwys word terwyl die tenders vir die paneel eers in Desember afgehandel sal word.

Die besluit bring mee dat die bestaande, of ou paneel, teen 15 Junie letterlik duisende lêers wat elk honderde bladsye beslaan, en teen ’n koste van R1-50 elk kopieer is, na nuwe prokureurs moet verskuif. Die nuwe span prokureurs moet dan al die onafgehandelde lêers se inhoud deurlees, wat blykbaar etlike maande kan duur.

Die nuwe prokureurs het reeds met die POF ooreengekom om deur elke lêer te werk om hulself op hoogte te bring van die saak teen R47 per bladsy.

Sodra die nuwe paneel dan in Desember aangestel word, sal die hele proses herhaal word, en sal daar weer teen ’n soortgelyke bedrag per bladsy ooreen gekom moet word.

Regslui wat bedrewe is in die werksaamhede, meen die dubbele oorskakeling kan van R300 miljoen tot R2,3 miljard beloop.

’n Nuwe paneel van 33 prokureursfirmas is aangestel, maar die Oos-Kaapse hooggeregshof het die aanstelling tersyde gestel en die POF beveel om die tenderproses van voor af te begin.

Die POF het opdrag gegee dat die ou paneel intussen  ál die onafgehandelde sake aan die nuwe paneel van 33 firmas moet oordra.

Busani Mabunda, die president van die BLA, het glo die Minister van Vervoer, sowel as die Openbare Beskermer (OB) en die Ouditeur-generaal (OG) gevra om in te gryp op die belaglike besluite wat geneem is.

Dr. Llewelyn Curlewis, die president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, sê die POF se besluit gaan totale chaos in die bedryf veroorsaak.

Die Minister van Vervoer het gesê die ministerie is ten volle bewus van die prokureurs se besware, maar het geen ondersoek gelas nie.